Momente in die monument se geskiedenis

President Steyn se oproep

President Marthinus Theunis Steyn, gewese president van die Vrystaat, het die oproep gedoen het dat ’n monument opgerig moet word ter nagedagtenis aan die vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boere-oorlog dood is.

Die 1907-konferensie

In Februarie 1907 is die eerste konferensie hieroor in Bloemfontein gehou, en is daar besluit om £10 000 (R20 000) vir die oprigting van ’n gedenknaald in te samel.

Fondsinsameling

Die hoogs verarmde Afrikanervolk het entoesiasties gereageer ondanks die geringe finansiële middele tot hul beskikking en het met hul tiekies en pennies die verlangde bedrag ingesamel. Vier jaar later was méér as die voorgestelde bedrag bymekaar.

Die monument

Tenders vir die ontwerp van die Nasionale Vrouemonument is internasionaal aangevra en die beoordelaars was prof. A. Moorrees, ds. J.D. Kestell en J.N. de Villiers. Nadat meer as veertig ontwerpe ontvang is, het die Werkende Komitee die beeldhouer, Anton van Wouw en die Pretoriase argitek, Frans Soff, opdrag gegee om hul ontwerp, met klein wysiginge, uit te voer. Ander internasionale ontwerpe van Hawke, mcKinley en White was ook op die kortlys. Bouwerk het in 1911 ‘n aanvang geneem.

Sterftes

Konsentrasiekampe

Daar het ongeveer 26 370 vroue en kinders in konsentrasiekampe gesterf; 81% hiervan was kindersterftes.’n Hele geslag potensiële Afrikaners is uitgewis, altesaam 22 074 Boerekinders en 4 182 Boerevroue, asook sowat 1 500 Boeremans (meestal bejaardes) het ook in die kampe omgekom.

Ander strukture

Die groot, oop ruimtes en ongerepte veld wat die terrein van die Vrouemonument omring, versinnebeeld die ongerepte Vrystaatse veld en landskap van destyds (tydens die Anglo-Boere-oorlog, 1899 – 1902).

Kampgedenkstene

Die 44 kampgedenkstene verteenwoordig die aantal konsentrasiekampe in die twee  Boere-republieke en elders, met die volle besonderhede van kinder- en vrousterftes wat daarop aangebring is, tesame met ‘n Bybelteksvers.

Beelde

Roerende beeldhouwerke staan as treffende herinnering van tonele uit die Anglo-Boereoorlog.

Die afskeid

Die Afskeid. 1986. (Danie de Jager)

Die onvergeetlike Afskeidbeeld (1986) begroet die besoeker aan die Vrouemonument op die terrein van die Oorlogsmuseum.

Die Banneling

Die Banneling. 1983. (Danie de Jager)

Die Banneling (1983) is ontwerp na aanleiding van adv. C.R. Swart se voorstel dat krygsgevangenes, met ontoeganklike grafte oorsee, by die Vrouemonument herdenk moes word.

Die Bittereinder

Die Bittereinder. 1994. (Danie de Jager)

Die Bittereinder (1994) versinnebeeld ‘n patriot en stryder tot die bittere einde toe op sy gehawende perd, vegtend vir die Afrikaner se behoud en vryheidsideaal.

 

Ossewaspore

’n Entjie van die monument is ’n sementblad met wawielspore, wat daar aangebring is tydens die Simboliese Ossewatrek van 1938. Om die Groot Trek van honderd jaar tevore (1838) te gedenk, was daar in 1938 weer verskillende geselskappe wat met ossewaens deur die land getrek het en daarom is dit die “Simboliese Ossewatrek” genoem. Ontleders sê hierdie eeufees het ’n besondere rol gespeel om die Afrikaners as ’n volk te herenig.

Bittereinderpoort

Die argitek, Hennie van der Walt, is versoek om ‘n gepaste toegangspoort tot die Vrouemonumentterrein te ontwerp na voltooiing van die terreinuitleg in 1974.

Entrance to the National Women's Memorial