This website is also available in: Afrikaans

Onthulling van die Nasionale Vrouemonument, 16 Desember 1913. Foto ontvang van Frikkie De Wet

Onthulling van die Nasionale Vrouemonument, 16 Desember 1913. Die twee polisie lede is van links: Josias Petrus Albertus Reyneke Joubert en Daniel Casparus Joubert. Foto ontvang van Frikkie De Wet

Petrus Gerhardus Joubert

Hierdie storie is met ons gedeel deur Frikkie De Wet en geskryf deur Petrus Gerhardus Joubert (Peet). Indien u enige stories van die Anglo-Boereoorlog het, stuur dit asseblief vir ons na info@vrouemonument.co.za

Op die dag van die onthulling was daar twee lede van die polisie aan diens. Links op die foto is Josias Petrus Albertus Reyneke Joubert (22 Oktober 1893 – 22 Desember 1969). Regs op die foto is Daniel Casparus Joubert (19 September 1891 – 20 Augustus 1962). Laasgenoemde se agterkleindogter het op 12 April 2013 namens die Oranje Meisieskool ‘n toespraak gelewer – 100 jaar nadat haar oupagrootjie op dieselfde verhoog gestaan het.

Die twee broers is in die Oos-Vrystaat naby Bethlehem gebore. Albei het na beperkte skoolgaan by die Vrystaatse Polisie aangesluit. D.C.J. was eers op Ascent gestasioneer, maar nadat hy met ‘n meisie van die omgewing getroud is, is hy na Vrede verplaas, waar hy werksaam was tot in 1933 toe hy weens beserings wat hy in die diens opgedoen het, medies ongeskik verklaar is.

Drie geslagte van die Joubert familie. Van links: Petrus Gerhardus Joubert (seun van polisie offisier aan diens met onthulling), Lizette de Wet (gebore Joubert, dogter) en Elsa de Wet (kleindogter en Hoofmeisie van Oranje Meisieskool). Foto verskaf deur Frikkie De Wet.

Drie geslagte van die Joubert familie. Van links: Petrus Gerhardus Joubert (seun van polisie offisier aan diens met onthulling), Lizette de Wet (gebore Joubert, dogter) en Elsa de Wet (kleindogter en Hoofmeisie van Oranje Meisieskool). Foto ontvang van Frikkie De Wet.

Hulle was die kleinseuns van Andries Johannes Joubert  (23 November 1805 in Montagu – 5 Mei 1852 in Lydenburg). Hy was ‘n Voortrekker wat vanaf Swellendam eers na die Oos-Vrystaat en later na Oos-Transvaal getrek het. Hy was een van die Stigterslede van Ohrigstad. As gevolg van malaria, die tsetse vlieg en assegaai oorloë het hy toe getrek na die plaas Elandspruit tussen Lydenburg en Machadodorp. Hy is daar oorlede en begrawe, maar met die bou van die Kwenadam, is hy opgegrawe en in Lydenburg se ou begraafplaas herbegrawe.

Kyk hier na fotos van Oranje Meisieskool se 106de verjaarsdagviering by die monument.