This website is also available in: Afrikaans

LionHeart Produksies in samewerking met die ATKV-tak Gariepdam kondig met trots aan:

Maalkolk ATKV LionHeart

‘n Wegbreekgeleentheid na die Suid-Vrystaat… Kom roep saam met ons herinneringe op… Kom word verlangend nostalgies. Keer saam met ons terug in tyd – kom pen saam met ons oomblikke in tyd verewig vas… Kom beleef fragmente wat stories sal ontketen.

Vrydagaand 13 September:

‘Maalkolk’:

‘n Produksie wat handel oor oorlog sal die naweek begin. Maalkolk is nie geskoei op enige spesifieke boek of verhaal nie. Dis ook nie noodwendig geïnspireer deur enige werk nie. Maalkolk is eerder ‘n universele blik op oorlog, en vra die vraag af of oorlog, in enige konteks en milieu, ooit ‘n oplossing of antwoord is. Maalkolk is geskryf in die konteks van die Anglo Boere Oorlog (ABO) wat in die Boere-republieke in Suid-Afrika afgespeel het tussen 1899 en 1902. Maalkolk is nie geskryf met die doel om geskiedkundige feite te weerspieël nie. Maalkolk kies ook geen kant nie.

Boekbekendstelling:

Johan de Beer se  2 unieke boeke wat 2 maande terug die lig gesien het en deur die Erfenisstigting versprei word, word op Gariepdam vir die eerste keer bekendgestel. Oorlogskroniek is ‘n feitlike roman wat handel oor 2 families se ervaringe gedurende die 3-jarige oorlog. Norvalspont – Kamp van smarte is ‘n koffietafel boek wat foto’s van die Norvalspont-konsentrasiekamp met geskiedkundige feite bevat.

Saterdagoggend 14 September:

Johan de Beer gaan alle belangstellendes op ‘n toer na die Norvalspontkampterrein neem. Hierdie kampterrein is nog redelik ongeskonde en besoekers sal nog byvoorbeeld die ou preekstoel sien, of die plekke waar die vrouens blikkies in die grond geplant het om hul tente uit die koue grond te probeer hou. Johan de Beer sal tydens hierdie geleentheid ook die oorspronklike uitleg van die kamp verduidelik en geskiedkundige feite deel.

Daar sal pakkette beskikbaar wees wat verblyf en etes sal insluit: Belangstellendes kan gerus vir Dr. Danie van Huyssteen kontak by 051 754 0495 of e-pos by danievh@mweb.co.za vir meer inligting.