This website is also available in: Afrikaans

Wapadrand groepwapenDanette Smith

“Net soos die gebeure wat versinnebeeld word deur hierdie monument deel van ons wordingsgeskiedenis is, is boeredanse deel van ons geskiedenis en hierdie fees is sekerlik nodig om ons daaraan te herinner wat ons volk gebou het tot wat ons is en selfs nog kan wees.” 

 

Die Wapadrand Boeredansgroep neem Saterdagaand deel aan die Nasionale Vrouemonument se 100-jaar feesvieringe met hul tradisionele boeredansvorme. Op die maat van lekker boeremusiek word gechoreograveerde voorbeelde van al die boeredansvorme vertoon wat die voete gaan laat jeuk!

Danette Smith antwoord onmiddelik toe ek vra hoekom sy die groep begin het:

“Dit is lekker!”

Om die mooi van die Afrikaanse volkskultuur met kinders te deel in die hoop dat hulle dit eendag ook met hul kinders sal deel vorm die dryfkrag agter die groep – op hierdie manier gaan daar vir jare en jare nog gedans word dat die stof staan op die klanke van Afrikaanse musiek.

Die Wapadrand Boeredansgroep bestaan sedert November 2004. Boeredanse is saam met Volkspele die twee dansvorme in die Afrikaner kultuur en beide verdien hul regmatige plek in ons kultuur en moet dus bewaar en uitgebou word.

Elke jaar word ‘n boeredanskamp aangebied by die Voortrekkermonument waar die kinders danse soos die wals, polka, mazurka, seties en die kadriel aangeleer word.  Na afloop van die kamp begin optredes by die Voortrekkermonument vir toeriste wat die monument besoek.

DSCF0903

Boeredanse neem ons sover terug as die 1800’s toe dit reeds gedans is en ‘n karaktertrek wat nooit verlore sal gaan nie, is die groepsbetrokkenheid en groepsgebondenheid wat ook in hierdie groep ervaar word.

Die groep is ‘n samestelling van kinders uit laer en hoërskole uit die Pretoria omgewing maar sluit ook lede in vanuit Randburg en Edenvale.  Vir hierdie feesgeleentheid is daar volwassenes, waarvan sommiges ouers van die dansers is, wat saam met die groep optree.

Die groep neem jaarliks deel aan die Tshwane Jeug Kunstefees wat aangebied word in die Staatsteater en ook aan die Nasionale Eisteddfod waar hulle reeds vir vier agtereenvolgende jare ‘n Diploma verwerf.

Logo

In 2014 vier die groep dus hulle 10de bestaansjaar en die eens kronkelende paadjie het ‘n teerpad geword en ons doel is om dit ‘n besige snelweg te maak.

Dis ook nodig vir die kinders om ‘n volksfees te beleef, want ‘n boek kan net soveel sê.  Die belewenis en die gevoel wat hierdie monument by die kinders gaan wakker maak sal vir ewig by hulle bly.

Eintlik is daar net een sin wat die Wapadrand Boeredansgroep se hoofrede by die 100-jaar feesgeleentheid kan opsom:

“Ons wil hier wees want ons hoort hier tussen ons mense!”

DSCF2627 copy

In 2014 word twee kampe vir kinders aangebied – Januarie by die Voortrekkermonument en Oktober in Randburg. Die kamp in Januarie is ongelukkig reeds vol.

Daar is ook ‘n jaarlikse kursus vir volwassenes in Maart maand kompleet met ‘n boereorkes wat die Saterdagaand musiek maak tydens die dinee. Kursusse kan ook op aanvraag aangebied word.

Inligting is op die groep se webblad beskikbaar:  www.boeredansgroep.co.za