This website is also available in: Afrikaans

zumba1Anneldé Rheeder

Wanneer vroue saamkom voel hulle sterk en trots. So sê Annelde Rheeder en Belinda Viljoen, twee hoë-energie instruktrises wat die ZumBA fiksheids-dans klas aanbied Saterdagoggend, 19 Oktober 08:00 by die Vrouemonument.

ZumBA het in Aug 2013 sy eerste bestaansjaar op die UV-kampus gevier en bied klasse aan vir beginners, oud en jonk.  Belinda Viljoen het as instruktrise op aanvraag van die “Health and Wellness Centre” die klasse by die Callie Human saal begin aanbied en later, danksy die groei van ledetalle, geskuif na die Joolkol saal. Annelde Rheeder het as lid begin en later gekwalifiseer as ‘n instruktrise en by Belinda aangesluit. Ons klasse bestaan meestal uit dans-choreografie op Latyns-Amerikaanse musiek vir fiksheidsdoeleindes.

Zumba is PRET! Zumba is MAKLIK! Zumba is vir ALMAL! Zumba is effektiewe OEFENING – jy oefen  sonder dat jy besef jy oefen! Hoewel vroue die meeste aanklank vind by die Zumba klasse is dit allermins nie tot vroue beperk nie. Die maatskappy verantwoordelik vir die ontstaan van Zumba is deur 3 “Alberto’s” gestig. Zumba het sy oorsprong in Colombia gehad waar ‘n dans en fiksheidsinstrukteur Alberto “Beto” noodgedwonge iets nuuts moes inbring in sy klas en toe sy ‘luistermusiek’ (tradisionele Latynse sals en meringue musiek) ingespan het. Hy het basiese danspassies van sy land vir die klas geleer en hulle wou daarna net meer hê daarvan. So het Zumba tot stand gekom en dit het wêreldwyd opspraak gemaak as ‘n pret en ‘anderste’ vorm van oefening.

Toe ons vir Anneldé vra hoekom hulle deel is van die 100-jaar feesvieringe van die Nasionale Vrouemonument, het sy die volgende te sê gehad:

Ons is genader om deel te wees van hierdie uitsonderlike feesviering en het dadelik die geleentheid aangegryp! Beide ek en Belinda is trots Afrikaans en Suid-Afrikaans en dis ‘n voorreg om die wonderlike krag en deursettingsvermoë van ons voorgeslagte te mag herdenk en eer. Ons het selfs Volkspele in ons Zumba-choreografie ingebring. Ons wil graag ons generasie vroue inspireer om trots Afrikaans te wees en om selfs deur Zumba-danse hulle selfvertroue en waardigheid te ontdek en bevorder.  Ons glo daarin om vreugde te saai onder ons lede, om hulle te inspireer, om hulle te help om hulle doelwitte te bereik asook om hulle ‘n plek en geleentheid te gee om hulleself te wees sonder enige oordeel. Ons bied hulle al hierdie dinge en dan bevorder ons ‘n gesonde leefstyl en oefening. Ons glo dat vroue wat hulleself en hul liggame respekteer en waardeer, hulle Godswaarde en doel uitleef en ander mense inspireer. Vroue kry die geleentheid om iets nuuts van hulleself te ontdek en ‘n eiesoortige dansbegeerte uit te leef. Baie van ons voel dat Zumba ‘n manier is om ons ideale te vervul en dis lekker wanneer ons onsself soms kan verras met wat ons regkry met oefening en repetisie. Dus, sonder dat jy dit besef, verwag jy meer van jouself en bewys jy wat in jou steek. Ons bevorder dus ook opheffing van die gees en kannie-dood houding.

ZumBA lede vind die klasse genotvol, maklik en ontspanne en sien resultate! Fiksheid neem binne ‘n paar klasse toe en danksy gereelde monitering kan ons saam die sentimeters en kilogramme sien wegsmelt.

Zumba-6

Ons nooi u graag uit om vir 2 ure saam lekker te kom dans. Mense wat onseker is wat Zumba regtig is of nog nooit daarvan gehoor het nie kan by ons aansluit en net Dans! Die danspassies is nie ingewikkeld nie en selfs mense wat nog nooit gedans het nie en met ‘twee linkervoete gebore is’ kan besef dat as jy kan loop, kan jy dans! Selfs mense wat minder mobiel is (in rolstoele) of dink hulle is te oud kan vreugde put uit Zumba omdat dit ALMAL insluit! Al kan jy net jou arms op die ritme beweeg of slegs jou koppie knik op elke ‘beat’ geniet jy jouself saam met ons! Dans is ons passie en Dans bring Vreugde en Dans is vir ALMAL! Ons wil graag ‘n gesonde leefstyl en positiewe lewensuitkyk bevorder onder ons mede-Bloemfonteiners. Deur te dans kan mense (veral vroue) weer hul selfwaarde ontdek en hulle selfvertroue ‘n hupstoot gee want by Zumba oordeel ons nie! Solank jy dit geniet – het ons almal (jouself inkluis) ons doel bereik! So kom in gemaklike klere en onthou om daardie tekkies in te pak!

Gaan kyk gerus na die klastye op zumba.com onder ‘Find an Instructor’ indien julle belangstel.