Ons monument, ons toekoms
By die onthulling van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein op 16 Desember 1913, het die vader en inisieerder van die monument, pres MT Steyn, hom ook uitgelaat oor die betekenis en boodskap van die monument. Hy het onder andere gesê:
- Die Vrouemenument word nie opgerig as ‘n teken van haat of ‘n ewigdurende verwyt nie, maar “om de liefde te bevorderen…”
- Die Vrouemonument word opgerig uit “reine piëteit” en as volkshulde aan die 26,370 vroue en kinders (die sterfsyfer soos in 1913 bekend) wat in die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 as “onze heldinnen en lieve kinderen… ten gevolge van de oorlog… zijn omgekomen” (‘n syfer wat in 2013 met meer bronne vir navorsing beskikbaar, op 34,051 bereken is).
Volgens pres Steyn moet die liefde wat deur die monument versimboliseer word, rigtinggewend in die toekoms van elke deel van die Suid-Afrikaanse bevolking wees. Sy toespraak én die rede van Emily Hobhouse wat albei weens hulle ongesteldheid deur ander mense voorgelees moes word, het dié universele element in die boodskap van die monument bevat.
Hobhouse het by die Afrikaner gepleit om die Britse imperialiste hulle wandade van die oorlog te vergewe “because you can afford it”. Anders gestel, omdat “julle” geestelik sterk genoeg is, kan “julle” “hulle” sonder haat en bitterheid vergewe.
“We claim it as a WORLD-MONUMENT, of which all the World’s Women should be proud: for your dead by their brave simplicity have spoken to Universal Womenhood…”
Die Vrouemonument wys dus op die lyding van duisende vroue en kinders, maar hulle geestelike en geloofsvolharding in Britse konsentrasiekampe en op ander plekke dra die universele boodskap dat die vrou – en haar kinders – as waardige mense hulle regmatige plek in die samelewing moet inneem. Die swaarkry van die Boervroue en –kinders in die jare 1900-1902 het ‘n triomferende martelaarskap geword.
Ons vriende
Die Vrouemonument is volgens Pres Steyn, voorsitter van die destydse Werkende Komitee, grootliks opgerig uit die armoede van arm Afrikaners na afloop van die oorlog in 1902. Daar was ook bydraes van meer welvarendes en uit die Joodse en Engelse gemeenskappe. Teen 1911 was die beraamde koste van die monument ongeveer 10,000 pond of R 20,000. Bydraes van ‘n pond of meer was egter die hoë uitsonderings.
Deur die jare is en word die monument in stand gehou deur Afrikaners, Afrikaanse instellings en organisasies en enkele ander weldoeners wat daarmee assosieer. Die Vrouemonument is van meet af ‘n geprivatiseerde, nie-staatlike onderneming en die versorging daarvan geskied deur en onder leiding van die Nasionale Vrouemonumentkommissie. ‘n Kommissie wat aan die hand van sy eie statuut en reglement werk.
Uit hierdie kringe is die restourasie van bykans R 533,000 met die eeufeesviering in 2013 befonds.
Daar is ‘n noue samewerking tussen die Vrouemonumentkommissie en die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke wat op dieselfde terrein geleë is. Laasgenoemde het in 1931 ontstaan op inisiatief van die Vrouemonumentkommissie en is ‘n semistaatsinstelling. ‘n Besoek aan die monument kan ook ‘n besoek aan die museum, ‘n spogmuseum met moderne, ontwikkelde metodes, insluit.