Loodsing van die monument
President Marthinus Theunis Steyn, president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat (1896-1902), het in 1906 ‘n oproep gedoen dat ‘n monument opgerig moes word vir die duisende vroue en kinders wat in die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 in Britse konsentrasiekampe en elders “voor vryheid, volk en vaderland” gesterf het. ‘n Gedenkteken vir hierdie vroue en kinders in plaas van ‘n hospitaal of skool sou goedkoper, makliker vir instandhouding en meer sprekend en betekenisvol wees.
Die gedagte het reeds tydens die oorlog by hom ontstaan en hy het daartoe oorgegaan om die projek te loods. ‘n Konferensie van al die Afrikaanse kerke en politieke partye in die destydse Kaapkolonie, Vrystaat, Transvaal en Natal is op 7 Februarie 1907 in Bloemfontein onder voorsitterskap van Steyn gehou en daar is begin met ‘n fondsinsameling. Die beraamde nodige R 20,000 is na 4 jaar ingesamel. Op 7 Julie 1911 het ‘n konferensie van “landswye verteenwoordiging” op die ontwerp van argitek Frans Soff en beeldhouer Anton van Wouw besluit. Twaalf morge rondom die koppies in die suide van Bloemfontein is as die plek vir die monument aanvaar. Laasgenoemde is deur die stadsraad aan die Komitee geskenk. ‘n Addisionele 5000 pond is later ingesamel omdat Van Wouw se ontwerp 11,000 pond sou kos en pres Steyn 4000 pond vir instandhouding geoormerk het.
Die beeldegroep van ‘n vrou wat staan en na die koms van ‘n nuwe dag kyk en voor haar ‘n sterwende kind op die skoot van ‘n vrou wat rou, maar vasberade vorentoe kyk, kom van Emily Hobhouse wat die voorval op die Springfonteinstasie gesien het. Die uitdrukkings op die monument: “Aan onze heldinnen en lieve kinderen”, “Uw wil geschiede”, “Ik zal u niet begeven en u niet verlaten” en “Voor vryheid, volk en vaderland” kom van pres Steyn. Dit is geloofsuitdrukkings en –vertolkings vir die oorlog en na-oorlogse situasie wat by die president en die oprigters van die monument geleef het.
Meer as 20,000 mense het op Dinsdag 16 Desember 1913, op “Vrouwendag”, vir die onthulling by die monument bymekaar gekom. Omdat Emily Hobhouse op Beaufort-Wes weens ongesteldheid moes omdraai, het die vrou van pres Steyn, Tibbie Steyn, die Vrouemonument onthul.
Pres Steyn kon na die gebeure dankbaar sê: “Nu Goddank!”
Die Nasionale Vrouemonumentkommissie
Hierdie kommissie het kort na die onthulling van die monument in die plek van die Werkende Komitee ontstaan. Tot met sy dood op 28 November 1916 in Bloemfontein, was pres Steyn die voorsitter van die kommissie. Die statuut van die kommissie bepaal dat die kommissie moet omsien na die bewaring en versorging van die Vrouemonument en alles wat op die terrein aangebring word.
Grafte in die binnehof van die monument
Pres Steyn het by die onthulling van die Vrouemonument verklaar dat hulle as’t ware by die graf van duisende vroue en kinders staan. Dit wat in die binnehof van die monument plaasvind, moet dus nie afbreuk aan hierdie atmosfeer doen nie. Gevolglik is leidende Afrikaners uit daardie jare en Emily Hobhouse wat ‘n sterk band met die Vrouemonument gehad het, ook in die binnehof aan die voet van die naald begrawe: MT Steyn (in 1916), CR de Wet (in 1922), Emily Hobhouse (haar as in ‘n nissie in die naald in 1926), JD (Vader) Kestell (in 1941) en Rachel Isabella (Tibbie) Steyn (in 1955). Later het die statuut van die Vrouemonumentkommissie bepaal dat die lys van grafte daarmee afgesluit is.
Ander gedenktekens op die terrein
Die Vrouemonumentkommissie het deur die jare probeer sorg dat niks in die omgewing van die monument opgerig word wat ‘n blik op die monument belemmer nie. Niks moet bots met die oorheersende sentraliteit en boodskap van die monument in sy omgewing nie. So iets sal die betekenis van die monument benadeel. Daarom is ander gedenktekens en beelde by die monument òf plat op die grond òf buite die lyn van ‘n behoorlike visie op die monument aangebring. Hier kan gedink word aan die 44 konsentrasiekampgedenkstene langs die geplaveide paadjie na die monument; die beelde Afskeid (1986), Banneling (1983) en Bittereinder (1994); en die plate vir die honderdjarige herdenking van die Vrede van Vereeniging in 2002. Die nuwe Tuin van Herinnering voor die ingang na die Oorlogsmuseum hou ook met hierdie wens rekening. Daar is ook gedenkplate op die regterkantse muur van die trappe na die binnehof van die monument: een deur mev (president) Nellie Swart in 1963 met die 50 jarige bestaan van die monument en een deur die aktrise Wilna Snyman met die eeufees in 2013. By die bome noordoos van die monument is wa- en bakkiespore in sement vasgelê om geleenthede rondom die Groot Trek – soos 1938 – te herdenk.
Bittereinderpoort
Na die aanvanklike voltooiing van die terreinuitleg in 1974 is die Bittereinderpoort aan die hand van die ontwerp van die argitek en kommissielid Hennie van der Walt by die ingang uit Monumentweg aangebring. Die steenwerk as naambord dui die teenwoordigheid van die monument en museum aan.